Dink aan ‘n beker yskoue water op ‘n snikhete dag, skyfies komkommer wat, wel, kommerloos ronddryf. Verfrissend, né! Ofskoon komkommers nooit die toptienlys van superkossoorte hal nie, is dit baie gesonder as wat ‘n mens sou dink en veel meer as net ‘n slaaibestanddeel of skyfies bestem vir moeë oë.
Verborge voedsaamheid. Een koppie gesnyde komkommer bevat geen vet nie en slegs 16 kalorieë. Boonop bevat dit ‘n groot deel van jou daaglikse aanbevole dosis vitamiene en minerale: vitamien C (14%), vitamin K (62%), magnesium (10%), kalium (13%) en mangaan (12%).