Netflix stoot SA pryse op

~ Maroela Media, Oktober 2021 ~

Staal jouself om meer op te dok om gewilde reekse en rolprente te stroom. Nuwe plaaslike intekenare op Netflix se twee duurste hoëdefinisiepakkette, die standaard- en premiumplan, sal nou reeds meer betaal, terwyl bestaande intekenare oor die volgende paar weke ‘n verhoging op hul state sal sien, het die groep in ‘n verklaring gesê.

 

Die prys van die standaardplan verhoog met R20 (14,4%) van R139 tot R159 per maand, terwyl premiumintekenare byna 18% meer gaan opdok. Die premiumpakket se prys styg met R30 van R169 tot R199 per maand . Die ander twee pakkette, die mobiele en basiese planne, se pryse bly onveranderd op onderskeidelik R49 en R99 per maand.

 

Volgens Netflix, wat sy buiging in 2016 in Suid-Afrika gemaak het, kom die drastiese verhoging nie op die rug van wisselkoersskommelings nie. “Dit is ons eerste prysverhoging in Suid-Afrika en weerspieël die verbetering in gehalte en groter verskeidenheid van rolprente en programme wat ons tans bied.”

 

Lees meer hier.