Sigaretsluikhandel geen twakstorie

~ Maroela Media, September 2021 ~

Die sluikhandel in sigarette in Suid-Afrika is soos ‘n wegholveldbrand. Ofskoon altesaam R16 miljoen se onwettige stompies in Augustus in onderskeidelik die Durbanse hawe en Kaapstad geblus en R30 miljoen se gekonfiskeerde twak in Junie vernietig is , vloei broodnodige belastinggeld hieruit steeds soos water deur ‘n stukkende sif.

 

Dis allermins ‘n ontluikende mark, meen British American Tobacco, een van die wêreld se grootste sigaretvervaardigers. Batsa, dié groep se plaaslike filiaal, sê Suid-Afrika is die enigste land ter wêreld wat (die vyf maande lange dampiedemper tydens die Covid-19-inperking ten spyt) toegelaat het dat onwettige sigarethandelsmerke sy topverkopers word.

 

‘n Verslag deur die Suid-Afrikaanse Tabakinstituut, wat intussen ontbind het, het in 2018 reeds getoon dat Suid-Afrika met een van die grootste onwettige markte ter wêreld te kampe het, jaarliks miljarde rand in belastinggeld verloor en wettige sigaretvervaardigers smoor.

 

Lees meer hier.